![]() |
||
| Southern African Reptile Conservation Assessment | ||
Onderweg…
deur Henning J. Janse van Vuuren
“jy is mos 'n prokureur.” |
|||||||||||||
|
Ek lag uit gewoonte.
Reis moet nie met vakansie verwar word nie. Vakansie gebeur wanneer jy jou bagasie argeloos in die kattebak slinger en eindelik Billy Idol se "Mony Mony" op Margate se strand gaan lê en luister.
Reis, daarenteen, doen iets vir die siel, konfronteer jou binneste, dop hom onderstebo en hang hom soos 'n skoongewaste onderbroek buite aan die draad sodat jy hom momenteel kan bekyk. Dit hoef nie eers ver te wees nie – veertig meter aan 'n bungie-rek is heeltemal voldoende.
Vele slim dinge is al oor reis gesê, soos: 'n lang reis begin met die eerste tree; die lewe is 'n reis, geniet die rit; vergeet van die eindbestemming, geniet die reis; as jy doer in die toekoms loop en kyk, gaan jy oor die klippe reg voor jou voete struikel; en so meer.
Dit is egter te betwyfel of reis ooit so populêr sal wees soos vakansie, is my beskeie opinie.
My reis in hierdie storie het met 'n kettie begin. Nou 'n kettie is 'n hout-en-rek-affêre met 'n leervelletjie aan die punt waarmee klippe afgeskiet kan word. Soos met die meeste ander wapens is die geheim afstand. Jy staan veilig eenkant en iewers ver verwyderd val 'n slagoffer. Dit is so met die kettie, slingervel, pyl en boog, kruisboog, assegaai, windbuks, noem maar op. En dit is vandag nog so – vra enige Amerikaner. Uiteraard nogals slim, maar terselfdertyd 'n tikkie lafhartig.
As plaaslaaities het ons nie rede of rasionaal nodig gehad om sonder waarskuwing op enige reptiel, diertjie of voël binne trefafstand los te brand nie. Bewegende teikens het die grootste uitdaging gebied. Veral slange het geen verskoning gehad om te leef nie – hulle moes voor die voet vermorsel word; jy weet, die hele hakskeenbyt-storie.
En toe, op 'n sonnige dag ná 'n voltreffer, staan ek met die dooie lyf van 'n houtkappertjie in my hand. Die voël was doodluiters besig om aan sy nes te timmer toe ek 'n einde aan sy gewerskaf bring. Vir die eerste keer het ek gekyk, weer gekyk, en besef dat ek vir sy sinlose einde verantwoordelik was. Om nie eers te praat van al dié sonder voete op my kerfstok nie. Ek het skuldig gepleit en gemeenskapsdiens aanvaar. Dit was die eerste tree.
|
Daarom was dit met 'n gevoel van verligting toe ek eendag raaklees dat die herpetoloog Marius Burger op soek is na vrywilligers om te help met 'n opname vir SARCA (South African Reptile Conservation Assessment). Vir tien dae sou ek boetedoen. Ek sou reptiele vang, registers help bywerk, en alles wat nodig is met die oog op bewaring van reptiele. Ek skuld hulle immers iets, het ek besluit.
“Kom jy nog slange vang?” bel Marius om te bevestig.
Groblershoop in die Kalahari, neffens Upington, Noord-Kaap.
“Natuurlik,” antwoord ek en vroetel ongemaklik met my pen-pusher-vingers aan die slang – ek bedoel das – om my nek.
So arriveer ek dan 'n uur te vroeg op Groblershoop en spreek af om vir die ander by die Caltex-garage te wag. Vir dié wat nie weet nie, die Kalahari is warm, warm, vrekwarm en stowwerig in Desember. Of dalk is dit sommer altyd so.
Maar vir eensaam raak was daar nie tyd nie. Koos – of Koos die legendariese slangvanger, soos hy hom later aan my bekend sou stel nadat hy verneem het wat die GP-nommerplaat hier kom maak – tesame met Freddie sien vinnig die geleentheid vir 'n geselsie, en dan, ag, as jy perdalks so ou ietsie los het.
So vertel Koos van die keer toe twee geelslange hom probeer verwurg het. Van toe hy 'n skerpioen lewendig wou eet, en dié hom sekuur onder die maaltand steek. En van: “Net hier het 'n kapel my gebyt.” Dit verklaar dan ook waarom, indien dit sou gebeur dat hy self iemand sou byt, daardie persoon ongetwyfeld aan slangbyt sal beswyk. Mmm …
Sou Freddie dan waag om ongenooid 'n storie te vertel, word hy hard stilgemaak met: “Ma' vi' wat klim djy nou met djou bek hie' in myne in!!”
Gelukkig daag Marius en die ander twee vrywilligers, Sean en Candice, kort daarna in die Toyota Hilux Raider op om die vreemde krieweling in my maag te besweer.
Ons basiskamp was in die Trans-Boegoe Eko-Oord, waar Lourens en Elzahn Fourie reeds vir ons kamp opgeslaan het. Van hier af het ons die volgende nege dae reptiele vir SARCA bymekaargemaak. Vanuit die koelte tussen die lowergroen bome op die oewer van die Oranjerivier, waar ons kampeer het, tot op die vlaktes van die omringende kliprand en sandvlaktes met sy ylbesaaide witgatte en kameeldorings, het dit letterlik gevoel soos 'n transformasie tussen die hemel en die hel.
Dit het begin. Dit was real. Dalk was ek in denial. Hier teen Woensdag het ek ook nie meer geweet of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie. Tyd en ruimte was irrelevant; al wat saak gemaak het, was genoeg water.
|
Ek het met suspisie besef dat 'n slang 'n dier is soos enige ander en met geen sinistere motiewe rondseil om die planeet stelselmatig oor te neem of mense in vliegtuie aan te val nie. Ek het onthou dat ek eerstens 'n mens is en beroepe ons nie regtig verskillend maak nie. Ek het geleer dat daar wel nog mense oor is met respek vir mekaar en wat werklik nog omgee.
Ek het ook ervaar dat daar enigiets van watersport tot 4x4 tussen die duine is teen uiters billike tariewe.
Soms, net soms, is jy gelukkig genoeg om vakansie te kan hou terwyl jy op reis is.
[First published on www.litnet.co.za]
![]() |
![]() |
![]() |
SARCA is a joint project of the South African National Biodiversity Institute (SANBI), the Herpetological Association of Africa (HAA), and the Avian Demography Unit (ADU), Department of Statistical Sciences, University of Cape Town.